Suid-Afrika het onmiskenbaar ontwikkel in een van die misdadigste lande ter wêreld, uiteraard vanweë verskeie faktore. Die grootste oorsaak hiervan is die onvermoë van wetstoepassingsagentskappe om kriminaliteit op die laagste vlak hok te slaan. Die dae wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) roetine- voet-en-voertuigpatrollies in gemeenskappe uitgevoer het, blyk vir altyd verby te wees. Individue en gemeenskappe voel nie meer veilig om vry op straat te kan rondbeweeg nie, en dit is ook van toepassing op hul eie wonings. Suid-Afrikaners is hierdeur gedwing om hulle blyplekke in so ’n mate te verskans dat niemand daar kan in- of uitkom nie. Die feit dat hul huise so veilig is, skep ’n vals sin van veiligheid by mense, aangesien hulle dan weer in ’n stadium die buitewêreld moet aandurf, waar die gevaar nog groter is. Dit is juis wanneer die individu in die openbaar beweeg, dat hy/sy bewus moet wees van hul omgewing. Dit word omgewingsbewustheid genoem.